04 October 2011

Jana en Mia



Mia het my so rukkie terug gekontak om foto's van haar en haar suster Jana te neem, maar  dit het wel 'n paar weke gevat om 'n dag te kry wat ons almal gepas het. Dit was natuurlik geen verrassing dat die Saterdag waarop ons toe wel besluit het sou die wind stormsterkte in Somerset Wes waai. Eerder as om uit te stel het ons besluit om die foto's by hulle pragtige huis te neem. Die wind was ons toe gelukkig genadig, maar ek is so bly ons het gebly by die plan om by die huis te neem. Ek sou 'n hele dag daar kon spandeer om net die huis self af te neem. Om elke hoekie en draaitjie is daar iets wat skree om af geneem te word.

Mia en Jana - dankie dat ek die middag saam met julle kon spandeer het en die foto's kon neem, dit was sommer baie lekker gewees.

10 August 2011

Josua Potgieter - 9 dae oud


Wat 'n voorreg om vir klein Josua te kon afneem toe hy nog net 9 dae oud was. Hierdie mannetjie het geweet hy gaan in die Paarl groot word, so hy het sommer vroeg vroeg al aangepas. Die dag van die foto's het ons die vertrek regtig warm gemaak, maar hy was steeds op sy gelukkigste toegevou in sy kombers. Ek het geen twyfel dat hy die warm somers van die Paarl lag lag sal kan hanteer nie :-)

Ten spyte van die koud kry was Josua 'n droom om af te neem. Nie baie wat mens so baie "smiles" in een fotosessie kry nie. Ja ek weet hulle glimlag nie regtig as hulle so klein is nie, maar as fotograaf mag ek maar dink dat dit wel 'n glimlag is.

Liezl en Johan baie dankie vir die lekker kuiertjie saam met julle en dat ek die foto's kon neem. Julle is 'n pragtige gesinnetjie en ek sien uit om sommer nog baie foto's van julle te neem!

29 June 2011

Johan en Liezl

Ek het nou maar net weereens besef dat Herfs is een van my gunsteling tye van die jaar, en daar is min dinge so mooi soos om tussen die wynplase te ry en die laslappies van rooi, geel, oranje en bruin wingerde te sien. Toe Liezl die voorstel maak dat ons gaan foto's neem by Neethlingshof het dit my sommer kinderlik opgewonde gemaak. 

Ek kom al 'n lang paadjie met Liezl en Johan. Ek en Liezl was immers kamermaats in Heemstede toe Johan Sondae aande in ons kamer begin kuier het. Dit is regtig 'n voorreg om ook in dié nuwe fase van hulle lewe te kan deel.  

Liezl en Johan, baie dankie vir 'n lekker kuiertjie saam met julle en die voorreg om die foto's te kon neem. Ek kan nie wag om in Julie vir "Boetie" Potgieter te ontmoet nie.

14 June 2011

Pragtige Mienke - 7 weke oud

Dit voel soos nou die dag wat ek 'n heerlike middag saam met Nicole, Jaco, Melanie, Heinrich, Nikki en Carlo spandeer het in Januarie. In Februarie het ek vir klein Noah afgeneem, bietjie vroeer in Mei vir Gisela en nou was dit Mienke se beurt gewees.

Ons het haar op 7 weke afgeneem, en ek moet sê dat ek nie heeltemal seker was wat om te verwag nie, siende dat sy bietjie ouer was as my vorige modelle. Maar Mienke was 'n droom om af te neem. Wel met daai mooi groot oë en lang wimpers is sy gebore om voor 'n kamera te wees. Sy was so lekker rustig en het ons sommer baie tyd gegee om foto's te neem. Maar toe dit kom by familie foto's neem, het sy haar voet neergesit en dit vir ons baie duidelik gemaak dat dit was nou genoeg.

Nikki en Carlo - baie dankie dat ek die foto's van Mienke en van julle kon neem en ook vir die lekker kuiertjie by julle huis! Ek het dit verskriklik baie geniet.

05 June 2011

Heinrich, Melanie en Gisela

Ek weet as fotograaf mag ek nie gunsteling modelle hê wanneer ek foto's neem nie, want dan gaan ek elke keer 'n nuwe gunsteling hê! Elke babatjie wat ek afneem is ongelooflik spesiaal vir my en dit is so lekker om tyd saam met hulle te spandeer en te sien hoe hulle op so klein ouderdom so baie persoonlikheid het. 

Maar die een keer mag ek 'n uitsondering maak en gaan ek sê dat klein Gisela defnitief ekstra spesiaal is. Die dag wat ek haar afgeneem het was haar oorspronklike verwagte datum van geboorte, maar sy was wel al 8 weke en 2 dae oud. Sy was dus die oudste "newborn" wat ek al afgeneem het en die feit dat sy ongeveer 2,5kg geweeg het, het haar ook die kleinste babatjie voor my lens gemaak. Heinrich en Melanie is baie goeie vriende van ons en dit was ongelooflik om te sien hoe hulle deur die laaste paar weke net nog sterker gegroei het in geloof en sterker anderkant uitgekom het. 

Heinrich en Melanie - Julle prinsessie is pragtig en ek sien uit om sommer nog baie foto's van julle te neem!

09 May 2011

Francois, Ingrid en Leandri

Francois, Ingrid and Leandri came to visit in South Africa a while ago and we finally got to meet Leandri. She is just so cute and pretty, I could definitely not miss the opportunity to take a few photos of them. Leandri was made to be in front of the camera, and she did not even complain once, and for a seven month old that is amazing. 

It was so much fun to spend some time with your little family and we can't wait until your next visit!


08 May 2011

Dawie, Magda, Oliver en Maya

Toe die fotos geneem is het ek uiteindelik finaal besef die winter is hier. Weg is die lekker somerweer waar temperatuur nie 'n faktor was met die fotos nie, maar nou is dit defnitief tyd vir verwarmers om ingespan te word om die klein mensies gemaklik te hou. Ten spyte van die koue was  dit so lekker om vir klein Oliver af te neem. Met sy groot ronde oë het hy elke oomblik dopgehou net om seker te maak hy mis niks nie. Hy was so rustig gewees, en om van sy ma en pa nie eens te praat nie. 

Magda en Dawie julle het 'n pragtige seuntjie en ek glo hy gaan vir julle nog oneindig baie plesier verskaf. Geniet elke oomblik van die nuwe stadium in julle lewens.

07 May 2011

Groenewald familie

Hierdie fotos is amper nie geneem nie as gevolg van 'n e-mail wat iewers in "cyberspace" weggeraak het, maar ek is baie bly dat dit wel gebeur het. Nie net was klein Cayden 'n droom om af te neem nie, maar sy ouer boetie Derrick is defnitief nie skaam vir 'n kamera nie. Lekker model, model gespeel en elke slag wil hy eers sien hoe die foto lyk. 

Baie dankie Marlene en Anton dat ek die paar fototjies van julle kon neem. Geniet die nuwe lid van julle gesinnetjie baie. 

20 April 2011

Dawie en Magda

Hierdie fotos moes eintlik al 'n tydjie terug opgelaai gewees het, want Magda en Dawie se klein seuntjie, Oliver is alreeds verlede week gebore, maar liewers laat as nooit...

So paar jaar terug het my man vir my van Windguru vertel. Dit is 'n website waar jy die weervoorspelling 'n week vooruit kan kyk. My man maak ook die stelling dat die voorspelling so akkuraat is dat as die weer nie dieselfde as die "Guru" is nie, dan is die weer verkeerd. Wel die Sondagmiddag wat ons vir Magda en Dawie in die Strand moes ontmoet vir fotos het ek gedink die weer gaan verkeerd wees. Volgens die "Guru" moes daar teen 17:00 amper nie 'n wind gewaai het nie, en nie baie wolke gewees het nie. Teen 16:00 was ek op die punt om vir Magda te bel om uit te stel, want by ons in Somerset Wes het die wind gepomp en dit was bewolk en dit het gelyk of dit enige oomblik kan begin reën. Ek het wel besluit om nog 'n rukkie te wag, en wonder bo wonder het die wind gaan lê en al die wolke het verdwyn. Dit was 'n perfekte dag vir fotos neem op die Strand. En weereens was die "Guru" reg gewees.

Dit was so lekker om vir Magda en Dawie af te neem. Hulle was net so gemaklik voor die kamera en dit het amper meer soos 'n lekker kuiertjie by die see gevoel as 'n fotosessie. Ek was ook gelukkig genoeg dat Ernst, my man, die dag assistent gespeel het. Ek wens ek kan hom oortuig om dit meer gereeld te doen. Die laaste foto is deur hom geneem.

Dawie en Magda, baie dankie vir die voorreg om 'n paar oomblike van die spesiale tyd te kon dokumenteer, en baie geluk met Oliver se geboorte. Ek sien uit om hom te ontmoet.